My Storie
Charlie Dicks se professionele sangloopbaan het in 1982 afgeskop met die opname van 'n destydse solus sewe plaat. 'n Langspeler het vinnig gevolg en so ook 'n uitnodiging om die verhoog met verskeie bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars by die Windhoek skou te deel. Harde werk het gevolg en stadig maar seker het die musiekwêreld kennis geneem van hierdie nuwe kunstenaar wie se gewildheid by gehore toegeneem het. Dit was egter eers in 1986 dat sy vir die eerste keer op die land se treffersparades gehoor is met haar trefferliedjie "Medals for Mothers". Verskeie ander treffers soos "Green to Blue", "Walking piece of heaven" en "It's a lovely lovely world" het gevolg wat Charlie vastrapplek gegee het in die musiekbedryf. Haar televisie debuut in die musiekprogram, Sing Country, het daartoe aanleiding gegee dat sy genooi was om op te tree in programme soos Music-a-la-carte, Uit die pluiskuil, TV4 Special en die gewilde Noot-vir-Noot. Charlie is ook onlangs genooi as ateljeegas op die gewilde TV program DKNT ('n program gebaseer op landswye top CD-verkope).
Wanneer Charlie oor haar musiekloopbaan van 25 jaar gesels, is dit duidelik dat daar tot dusver verskeie hoogtepunte in hierdie kleurryke loopbaan was. Die sukses van die liedjie, Medals for Mothers, wat vir weke lank 'n nommer een treffer op die meeste radio-treffersparades was en nog steeds, na al die jare, op radioprogramme en vertonings versoek word, is 'n hoogtepunt wat sy uitsonder.
Die tweede is toe Charlie en haar musikant-man, André, genooi was om op te tree in die Seychelles tydens die draai van die vorige millenium. Op eg Suid-Afrikaanse wyse het Charlie, tot groot vreugde van toeriste vanoor die hele wêreld, die sekondes afgetel om die nuwe millenium te verwelkom. Dit was nie net 'n spesiale oomblik in haar lewensdagboek nie...dit was onvergeetlik! Om in die buiteland op te tree was vir Charlie 'n nuwe ervaring en 'n groot uitdaging, maar te oordeel aan die bewonderaarspos met die buitelandse posstempels, kan jy aflei dat hierdie optredes net weer bevestig dat musiek 'n universele taal is.
Die hoogtepunt wat vêr bo almal uitstaan, was toe sy in Augustus 2002 haar eerste geestelike album kon uitreik. Dit was die begin van 'n nuwe fase in Charlie se loopbaan, die begin van 'n geestelike musiekbediening. Sy vertel ook graag dat geen prestasie of titel ooit meer vreugde kan gee as bloot die wete dat God jou, ten spyte van al jou tekortkominge en gebreke, as klein instrument in Sy groot simfonie gebruik nie.
Charlie het nie een genre vir 'n ander verruil nie, sy het dit reggekry om op haar eiesoortige manier, suksesvol, twee uiteenlopende genres te kombineer sonder om die egtheid van enige een daarvan in te boet, want soos sy vertel: "Jy is Christen in alle fasette van jou lewe en behoort in alles wat jy doen, jou christenskap te kan uitleef."








