Argief
Maart 2010
Die groot ou boom wat jare al 'n welkome skaduwee oor ons sypaatjie en gedeelte van ons tuin gooi, het onlangs begin vrek. Eers het ek gedink dat dit maar ouderdom is, maar toe agtergekom dat dit die werk van kwaaddoeners was. 'n Klompie bome die straat af is vergiftig. Ek en André het besluit dat ons boom 'n tweede kans verdien!! Die boom is nie afgesaag nie, maar net teruggesnoei. Ons het hom baie voeding gegee en die Hemelse Vader het op die regte tyd, baie, baie reën gestuur. Tot ons verbasing begin daar al nuwe blaartjies uitkom! Miskien gaan hy baie kleiner wees as in die verlede, maar hy sal weer sy skaduwee gooi en my altyd herinner dat God Sy skepping onderhou - hoeveel meer sal Hy nie vir jou en my, wat na Sy beeld geskape is, onderhou nie.
Dankie vir al die opbouende kommentaar oor "soos 'n veertjie". Dit word baie waardeer!
Hier is 'n paar snitte waarna jy kan kyk
» Medals for Mothers
» A little peace
» My Heer is naby
» I love You Lord
EK Sê MAAR NET...
» Ek vertrou om binnekort meer inligting te kan deurgee oor die TV PROGRAM.
» Die nuwe CD is goed op dreef.
Vrede vir jou
Charlie
Januarie 2010
Dit wil vir my voorkom of dit 'n onwillekeurige reaksie van die mens is om aan die begin van 'n nuwe jaar te wil reflekteer op dit wat die vorige jaar sy lewenspad gekruis het. Vir my het die gedeelte in Prediker 4 – "twee vaar beter as een", by meer as een geleentheid die afgelope jaar 'n spesiale betekenis gekry. Ek het God se "hart-wat-omgee" nie net deur my huweliksmaat, vriende en familie beleef nie, maar soms selfs deur vreemdelinge wat my pad gekruis het. Ek vertrou dat, hoe ookal jou jaar verloop het, jy God se hand van genade daarin kon raaksien.
Kliek hier om te sien hoe 'soos 'n veertjie' my nuutste DVD se omslag lyk.
Hier is 'n paar snitte uit "soos 'n veertjie". Kliek op die titel om dit te sien.
» Medals for Mothers
» A little peace
» My Heer is naby
» I love You Lord
ANDER NUUS:
» Hou die TV PROGRAM-spasie dop vir inligting. Dit is maar 'n laaang proses, maar
gelukkig is dit nog op koers.
» 'n Nuwe CD is in die proses om gestalte kry.
Mag ons elkeen hierdie nuwe jaar opnuut "soos 'n veertjie" in die hand van ons Skepper wees; mag ons veilig en geborge voel in die wete dat Sy genade ons oral vergesel!
Tot volgende keer...
Charlie
November 2009
Verlede keer het ek geskryf dat "soos 'n veertjie", my nuutste DVD, 'n stukkie lente in my hart indra; ek het ook genoem dat die lente vir my ook 'n belofte van nuwe lewe en nuwe uitdagings inhou. Min het ek geweet van 'n prettige uitdaging wat vir my voorlê. Hennie en Ronelle Storm, twee spesiale vriende, het vir my en André verras met 'n nie-alledaagse-geskenk - 'n lugballon vaart. Wow... dit was 'n belewenis! Die woord "vrede" het vir my 'n dieper betekenis gekry terwyl ek so tussen hemel en aarde gehang het. So baie dinge het deur my gedagtes geflits; 'n uur het soos 'n paar minute gevoel. Onwillikeurig het ek aan die psalmdigter se woorde gedink... "wat is die mens dan dat U aan hom dink"
Dankie aan almal wat laat weet dat julle "soos 'n veertjie" geniet. Ek waardeer elkeen se terugvoer!!
Kliek hier om te sien hoe "soos 'n veertjie" se omslag lyk.
Kliek hier om die video (Medals for Mothers) te speel. Binnekort behoort nog 'n snit of twee hier te siene te wees.
ANDER NUUS:
*Hou die TV PROGRAM-spasie dop vir inligting. Dit is maar 'n laaang proses, maar gelukkig is dit nog op koers.
Vrede vir jou!
Charlie
September 2009
Dis lente-tyd!! Dit voel soos gister wat ek vir die eerste keer ’n briefie geskryf het vir my (toe) nuwe webblad en dit was ook lente-tyd. ’n Hele jaar het intussen gekom en gegaan.
Gelukkig herinner die lente my nie net aan hoe vinnig die tyd aanstap nie. Dis vir my n soort van bemoediging / bevestiging dat ons Skepper alles in die Hemel en op aarde met perfekte tydsberekening ten goede laat meewerk. Die belofte dat, maak nie saak hoe straf die winter (selfs ons lewens-winter) by tye was nie, daar altyd die belofte is van ’n lente waarna ons kan uitsien. Bloeisels en nuwe blaartjies wat oral kop uitsteek; nuwe lewe, nuwe uitdagings en nuwe dinge om te geniet en te ontdek.
Die een stukkie lente in my hart is my nuwe DVD met die titel
"Soos 'n veertjie" Ons is baie trots op die eindproduk en is dankbaar teenoor ons Skepper dat ons Hom deur middel van musiek kan verheerlik.
Kliek hier om te sien hoe
"Soos 'n veertjie" se
omslag lyk.
Kliek hier om die video
(Medals for Mothers) te speel.
ANDER NUUS:
* Hou die TV PROGRAM-spasie dop vir inligting. Dit is maar ’n laaang proses, maar gelukkig is dit nog op koers, so ek wag geduldig.
* Radio geselsies: Kuier gerus saam op
RSG (Ster van die week) 28 September om 12h00. Daar sal ook inbel-geleentheid wees waar DVD’s van
“soos ’n veertjie” gewen kan word
Mag daar lente in jou hart leef!
Charlie
Julie 2009
Vir enige kunstenaar is 'n nuwe CD of DVD uitreiking sekerlik 'n hoogtepunt. Wel ek is bevoorreg en ryklik geseënd om weereens een van daardie hoogtepunte in my eie lewe te beleef.
"Soos 'n veertjie" is die titel van my nuwe DVD en dit is eersdaags op die winkelrakke beskikbaar. Iemand wou weet waar die titel sy oorsprong het. Wel, ek glo dat as ons toelaat dat ons soos 'n veertjie in God se hand lê, en Sy Gees die geleentheid gee om ons te blaas, dan sal ons elke dag (maak nie saak waar ons is nie) daar wees waar God ons kan gebruik.
Kliek hier om te sien hoe "Soos 'n veertjie" se omslag lyk. Behalwe die opnames van 17 liede wat in 'n pragtige klip-kapel met 'n kaggelvuur-atmosfeer opgeneem is, is daar ook vier bonus videos ingesluit.
Kliek hier om die video (Medals for Mothers) te speel. Volgende keer wys ek nog 'n snit of twee.
NUWE DINGE:
* Hou die TV PROGRAM-spasie dop vir inligting. Daar's 'n nuwe program oppad.
* My nuwe DVD "Soos 'n Veertjie".
Vrede vir jou
Charlie
Junie 2009
Dankie aan almal wat laat weet het dat julle van die "Medals for Mothers" video hou. Vir die wat dit nog nie te siene gekry het nie. Kliek hier om die video (Medals for Mothers) te speel.
My opgewondenheid oor hierdie video maak darem nie dat ek vergeet van vadersdag nie. Dit bly 'n voorreg om 'n pa te hê wat 'n spesiale plek in jou hart het. Soveel te meer is dit 'n voorreg om ‘n Hemelse Vader te hê wat vir jou 'n spesiale plek in Sy hart gehad het nog voor jou geboorte. Hy omvou jou met Sy liefde wat Hy nie net op vadersdag nie, maar elke dag jou mee wil bederf. Aan al die manne wat so gelukkig is om ook 'n aardse pa te wees... Gelukkige Vadersdag!!!
NUWE DINGE:
Daar is 'n splinternuwe TV reeks oppad!!! Hou die TV PROGRAM-spasie (links onder) dop vir inligting.
My nuwe DVD is amper gereed vir uitreiking. Die naam daarvan is "Soos 'n Veertjie". Ek glo dat as ons toelaat dat ons soos 'n veertjie in God se hand lê en Sy Gees die geleentheid gee om ons te blaas, dan sal ons elke dag (maak nie saak waar ons is nie) daar wees waar God ons kan gebruik.
Vrede vir jou... waar jy ookal mag wees
Charlie
Mei 2009
Hierdie maand vier ons moedersdag en daarom wil ek sommer met die intrapslag vir al die ma's 'n baie gelukkige moedersdag toewens. Mag dit nie net vir jou 'n spesiale dag wees nie, maar mag jy die res van die jaar spesiaal beleef in die wete dat ons Skepper jou gekies het om nuwe lewe te skep.
Hoe ookal jy jou moedersdag deurbring... hier is 'n video uittreksel uit my nuwe DVD om namens jou kroos op 'n ander manier vir jou te sê:
"If there's Medals for Mothers... Mamma, you'd win everyone!!!"
Kliek hier om die video (Medals for Mothers) te speel.
NUWE DINGE: Daar is 'n splinternuwe TV reeks oppad! Hou die TV PROGRAM-spasie (links onder) dop vir inligting. 'n Nuwe DVD wat ook Medals for Mothers insluit is binnekort beskikbaar. Ek sal julle op hoogte hou van ons vordering en wanneer dit beskikbaar sal wees.
Alles wat mooi is tot 'n volgende kuier
Charlie
Maart 2009
Dankie dat jy gekies het om ’n rukkie saam te kuier; ek hoop dat jy dit gaan geniet!
Soos belowe, vertel ek graag hierdie keer van die bederf om as aanbieder van ‘n TV program, voor die kameras in te skuif. Die stories was so inspirerend! Elke storie was op sy eie manier spesiaal en ek kon kennis maak met mense wie se harte warm klop om die opdrag van liefde onvoorwaardelik uit te leef.
Die lekker was dat deure oop gegaan het om betrokke te raak by projekte; projekte wat uitvloeisels van hierdie programme is en alhoewel op hierdie blad nie genoeg plek is om almal nou te deel nie, sal ek graag van tyd tot tyd meer hieroor wil vertel.
Een daarvan was toe ek saam met ’n groepie geloofsvriende boekrakke van herwinde hout gaan bou het vir ’n biblioteek wat in ’n ou gebou opgerig is vir minderbevoorregte kinders iewers tussen êrens en nêrens. Hierdie rak bouery was nie net opbouend vir die groep nie, maar laat ’n mens net weereens besef dat elkeen van ons (op watter manier ookal) ’n klein instrument in die Hand van die Vader is. Die hout is geskenk deur Ludi, wat palette herwin en die afval hout verwerk tot bruikbare vorm. Hy het sy storie op een van die programme gedeel en was sommer dadelik positief om deel te wees van hierdie rakke-bou-uitreik. Wel, die boekrakke staan en ek vertrou dat dit baie vreugde sal bring aan elkeen wat in die toekoms daardie biblioteek gaan besoek.
So het verskillende stories vervleg geraak waaruit projekte soos hierdie een, ontstaan het.
NUWE DINGE: Daar is ’n splinternuwe TV reeks op pad! Hou die TV PROGRAM-spasie (links onder) dop vir inligting. Dankie aan almal wat die posbesteldiens gebruik – ’n telefoonnommer is ook nou beskikbaar vir die doel.
Tot volgende keer se kuier...
Vrede vir jou
Charlie
Januarie 2009
‘n Spesiale dankie aan elkeen wat inloer en saam kuier. Sonder julle, sou die webblad geen doel gedien het nie.
Verlede jaar se optredes het vir my op ’n hoë noot afgesluit in Port Nolloth as deel van die Richtersveld Liggiesfees. Wat ’n belewenis om Hom te verheerlik met ‘n see uitsig van die verhoog af. Ek kon selfs die see ruik. My hart wou net aanhou sing: “How great Thou art!”
Daar was ’n paar nuwe en opwindende ervarings wat ek verlede jaar beleef het. Een daarvan was die voorreg om ‘n TV-program “Wat’s jou storie!” te kon aanbied. Dit was beslis nie net die stories wat ek kon deel wat onvergeetlik was nie. Volgende keer deel ek so bietjie daarvan met julle.
NUWE DINGE: Na aanleiding van ’n klompie navrae, gaan daar hopelik ’n diens op die webwerf beskikbaar wees vir die aankope van my musiek. Ons skaaf nog daaraan, maar hou die webwerf dop vir inligting.
OPTREDES: Ek sal graag in jou omgewing wil optree! Het jy ’n bediening tydens ’n erediens, oggendtee, ontbyt of self ’n gesinsvertoning in gedagte, dan kan jy my gerus kontak. Klik op “Kontak my”.
“Om te deel wat jy het, is belangriker as wat jy het.” was die woorde van Albert Wells. Mag jy in hierdie nuwe jaar die rykdom van liefde en vreugde in oorvloed geniet en dit deel met wie ookal jou pad kruis... tot Sy eer.
Vrede vir jou
Charlie
September 2008
Skielik besef ek dat met alle eerstes 'n anderse opgewondenheid in mens se hart kom lê. Miskien omdat alle eerstes nuut is en nuwe goed bly mos maar nog altyd onweerstaanbaar.
Wel, ek het hierdie anderse opgewondenheid terwyl ek hierdie stukkie skryf, want hierdie is vir my 'n eerste en dit is baie nuut vir my. 'n Eie webwerf! Wow!
Ek is nogal "tegnologies-versigtig"! Gelukkig het die Vader my geseën met 'n lewensmaat wat "tegnologies-roekeloos" is en deur hom kon die Here ons bediening met hierdie webwerf seën sodat ons daardie volgende tree kan gee, tot Sy eer. Daarom André...duisend dankies dat jy toelaat dat die Gees jou lei en dat jy jou vlerke onder my inskuif wanneer ek nog effens bang is om te vlieg.
Wel, ek is in die wolke oor hierdie nuwe kuierplekkie! My gebed is dat hierdie 'n "kamer" sal wees waar ons, ten spyte van die vinnige tegnologie en gejaag van elke dag, 'n stukkie van God se vrede sal ervaar om ons lewensreis vol hoop voort te sit.
Mag die genade van ons Hemelse Vader, wat elke môre nuut is, ook 'n opgewondenheid in jou hart kom lê.
Vrede vir jou
Charlie Dicks








